‘n Paar woorde spesifiek vir die soekendes onder ons. Dalk diegene wat meer onsekerhede het as enige iets anders. Ek wil met jou praat oor jou X-files. Die X-files was een van my gunsteling TV-programme. Dit het gehandel oor die onbekende, maar ook oor die soektog na waarheid. ‘The truth is out there…!’ Die meeste episodes was gevul met misterie, avontuur en heelwat oor die paranormale. Die naam X-files het gedui op ‘n spesiale afdeling van die FBI wat daarop uit was om die bo-natuurlike en paranormale te ondersoek. Een van hulle take was onder ander om uit te vind of daar enige feitelike getuienis was dat daar lewe in die buitenste ruimte bestaan. In plat Afrikaans: Hulle moes uitvind of daar UFO’s is. Scully was die rasionele een wat slegs op feite staatgemaak het. Sy het niks geglo of aanvaar wat nie gestaaf kon word deur konkrete getuienis nie. Dan was daar Mulder. Hy was meer die intuitiewe helfte van hierdie buitengewone spannetjie van twee en was baie meer oop en ontvanklik vir aanvoeling en die bo-natuurlike.
Altwee van hierdie mense het egter een ding ding in gemeen gehad: hulle was albei bereid om te gaan na waar die getuienis hulle lei. Hulle was albei geïnteresseerd in- en soekers na die waarheid, wat hierdie moontlik ontdekte waarheid ook al sou kon wees. Hulle verteenwoordig immers die X-files! Hulle móét oop wees. Dis wat ‘n wetenskaplike se gesindheid behoort te wees! Enige navroser weet dat indien jy jou ondersoek begin met reeds opgemaakte voorveronderstellings oor wat die uiteinde gaan wees, jy pens en pootjies in jou maai is!
Naas die TV programme het daar egter ook etlike X-files flieks verskyn. In die een fliek het dit gebeur dat die departementshoof waaronder die X-files gesorteer het besluit het om die X-files toe te maak. Geen X-files meer nie. Geen soektog meer nie. Geen ondersoek na die naakte waarheid meer nie. Die files is toe. Gelukkig is my dag egter gemaak in die fliek toe daar na baie drama en struweling weer besluit is om die X-files te heropen! Die waarheid is weer belangrik. Die soektog is weer aan die gang! Die openheid is herstel. Ons soek weer. Na waar die getuienis ons ook al heen lei.
Dis waarmee ek jóú wil los, met hierdie vraag: ‘Is jóú X-files oop?’ Is jy bereid om te gaan waar die getuienis jou ook al mag lei al beteken dit dat jy die standpunt wat jy al jare lank huldig te bevraagteken of selfs prys te gee? Ek weet sommige van ons het baie om te verloor. Ek dink egter ook dat ons uiteindelik op die langtermyn meer het om te wen! Ek sê nie dat jy alle bewerings klakkeloos moet aanvaar wat enige persoon maak nie. Inteendeel! Dink vir jouself! Maar moenie nét dink op jou eie nie, lees ook en praat met verskillende soorte mense! Maar moenie nét lees wat jy wil nie. Lees wyd genoeg. Lees die literatuur van sceptics soos Dawkins, Hitchens, Harris, Spong, Crossan, Hurlin en ander as jy moet. Maar lees egter ook ‘n paar Christen – geleerdes soos Tim Keller, NT Wright, Ben Witherington, Ravi Zacharias, Gary Habermas, CS Lewis, Francis Collins en ander wat die saak vir geloof in Christus in ‘n gebalanseerde lig stel.
As jy dan ‘n sceptic wil wees, fine! Maar wees at least ‘n verantwoordelike sceptic! Hou jou X-files óóp, régtig oop! Dit geld net so veel vir Christene, ek weet! Ek loop myself gedurig vas aan die rigiditeit van mede-Christene en dit maak my ewe moedeloos. Ek het egter vir lank geglo dat meeste Christene meer rigied is as meeste nie-Christene. Ek het altyd gedink dat mense buite geloof baie meer oop is. Baie jare en egter intussen verloop en baie boeke en artikels is gelees (gekryf deur nie-Christene) en nog meer gesprekke is gevoer met nie-Christene. Hoe verkeerd was ek nie gewees nie! Christene is baie keer onbuigbaar, dis waar. Maar dis geensins beter aan die kant buite die Christelike geloof nie! Trouens my ervaring is dat die Christen-geleerdes wat ek lees net so bewus is van die denke, argumente en materiaal wat bestaan in die wêreld buite geloof, as andersom! So baie mense hou ewe hardekwas vas aan ongeloof omdat hulle nou kwansuis ‘n paar boeke van ander skeptics gelees het! Om jou antwoord op die mees belangrike filosofiese vraag in die ganse geskiedenis (naamlik of daar ‘n God is en wie Hy is) te bou op maar net ‘n boekie of twee van een of ander skrywer sonder om kennis te neem van intellegente denkers vanuit teenoorgestelde sirkels, is uiters onverantwoordelik.
Bly ‘n soeker! Soek met oorgawe! Hou jou X-files oop! Jy mag dalk verbaas wees oor wat jy kry!
Recent Comments