Die historiese, liggaamlike opstanding van Jesus Christus is die as waarom ons geloof draai. Indien Jesus opgestaan het, is die Christelike geloof waar en alle ander godsdienste is vals. Indien Jesus opgestaan het was Jesus die Messias, die Seun van God, God self wat vir ons kom wys het hoe God lyk. Indien Jesus opgestaan het, het ons wat in Hom glo die ewige lewe en hoef ons die dood nie te vrees nie. Indien Jesus opgestaan het kan ons lyding betekenis hê en is ons swaarkry nie die laaste woorde oor ons lewens nie. Indien Jesus opgestaan het kan ons met vrymoedigheid die goeie doen en werk daaraan om hierdie wêreld ’n beter plek te maak aangesien alles wat ons hier doen uiteindelik sal deel wees van God se nuwe herstelde wêreld!
Die opstanding was die gebeurtenis wat baie skeptiese mense in Jesus se tyd oortuig het dat Hy werklik die Messias was en deur God gestuur is. Petrus en Johannes en nie in Jesus geglo voordat hulle besef het dat Jesus opgestaan het nie (Johannes 20:8). Dieselfde geld vir Tomas (Johannes 20:28) en ook Jakobus die broer van Jesus (Johannes 7:5).
Daar is egter vandag ’n groeiende onsekerheid oor of ons geloof in die opstanding gebou is op vaste fondamente, veral in die lig van uitsprake deur liberale teoloë van onder andere die Nuwe Hervorming in Suid-Afrika. Die doel van hierdie artikel is om jou geloof in die opstanding van Jesus te herstel of te bevestig. Om hierdie rede gaan ons kyk na drie relevante vrae rondom die historiese opstanding van Jesus. Indien hierdie vrae beantwoord kan word, is daar goeie rede om in die historiese opstanding van Jesus te glo. Hierdie vrae is: Was Jesus werklik dood? Was Jesus se graf werklik leeg? Het Jesus werklik verskyn aan mense na sy dood? Kom ons kyk nou een vir een na elke vraag.
1. Was Jesus werklik dood?
In die 19de eeu het David Strauss, Karl Bahrdt en Karl Venturini met die teorie uitgekom dat Jesus nie werklik dood is aan die kruis nie, maar dat Hy bedwelm is deur die drank wat die Romeinse soldate Hom aangebied het. Hy het dus sy bewussyn verloor aan die kruis. Die soldate het toe gedink dat Hy dood is en sy lyk van die kruis afgehaal en begrawe. Op die derde dag het Jesus sy bewussyn herwin as gevolg van onder andere die koel atmosfeer van die graf. Hy het opgestaan, uitgegaan en toe aan sy dissipels verskyn as die opgestane Here.
Deur die jare het daar egter onder geleerdes ernstige probleme met hierdie teorie ontstaan. Meeste geleerdes is dit eens dat hierdie teorie histories byna onmoontlik is in die lig van Jesus se marteling voor en tydens sy kruisiging. Eerstens het Hy waarskynlik soveel bloed verloor tydens sy bloedsweet, bespotting en geseling dat Hy te swak was om sy kruis te dra oppad na Golgota. Historiese gewens suggereer dat baie van die slagoffers van ’n geseling dit vanweë al die bloedverlies en trauma nie oorleef het nie. Uit die getuienis oor Jesus is dit duidelik dat Hy aan hipovolemiese skok gely het. Wanneer na die kruisiging self gekyk word dan sien ons dat die soldate Jesus se bene nie gebreek het soos wat hulle gewoonlik gedoen het wanneer hulle die sterfproses wou bespoedig nie. Die rede hiervoor was dat dit vir hulle duidelik was dat Jesus reeds dood was. Dit word dus vandag algemeen aanvaar dat Jesus dood was toe Hy in die graf begrawe is.
Selfs al sou Jesus begrawe gewees het terwyl Hy nie werklik dood was nie, selfs al sou Hy self uit die doeke kon kom, die grafsteen kon wegrol en verby die wagte kom, sou Hy in so ’n swak toestand gewees het dat Hy beslis nie ’n spul bang en bewende dissipels sou kon inspireer om die magtige sending beweging te begin wat toe ontstaan het nie.
2. Was die graf werklik leeg?
Sonder ’n leë graf sou ons nie kon glo dat Jesus opgestaan het nie. Jesus se verskynings aan mense sou geïnterpreteer kon word as ’n spook of gees indien Jesus se lyk steeds in die graf gevind kon word. Was die leë graf dus ’n historiese feit gewees? Ons kan wel so glo vir die volgende redes:
Dat die leë graf vroeg reeds aanvaar is, is duidelik uit die oudste teks wat ons het oor die opstanding naamlik 1 Korintiërs 15:3-4. Paulus skryf in 55 nC op die laatste, nog voordat enige legendes in die teks kon insluip en terwyl al die ooggetuies nog geleef het om enige historiese onakkuraathede te korrigeer.
Die adres van die graf was ook aan almal bekend: Christene, Joodse outoriteite sowel as die Romeine. Indien dit nie leeg was nie (terwyl die Christene wel so ’n aanspraak sou maak) sou dit nie moontlik gewees het vir die Christelike beweging om tot stand te kom in dieselfde stad waar Jesus tereggestel is nie, aangesien daar te veel ooggetuies was van wat werklik gebeur het.
Die leë graf was ontdek deur vroue. Dit was egter vir die vroeë Christelike gemeenskap ’n verleentheid aangesien vroue-getuies in daardie tyd as onbetroubaar beskou is en nie in ’n hofsaak kon getuig nie. Waarom het die evangelieskrywers dit dan ingeskryf in hulle verhale oor Jesus se opstanding? Die beste verduideliking is dat dit is wat werklik gebeur het. Die evangelieskrywers wou niemand beïndruk nie. Hulle wou dinge sê soos dit plaasgevind het. Indien die verhaal dus ’n verdigsel was, sou dit so geskryf geword het dat mans die graf ontdek het.
Die vyande van die vroeë kerk, soos die Jode en Romeinse owerhede, het nooit ontken dat die graf leeg was nie, maar dat sy dissipels Jesus se liggaam gesteel het. Tot vandag toe is die beendere van Jesus nie gekry nie. Dink net hoe maklik kon beide die Jode en Romeine die Christene se geloof gesink het: kry Jesus se liggaam en wys dit vir almal! Hulle kon egter nie, want Hy was nie meer in die graf nie!
3. Het Jesus werklik aan mense verskyn na die graf leeg gevind is?
Die leë graf as sulks sou ook nie die verhale van die opstanding kon genereer nie. Die leë graf sonder die verskynings van Jesus aan mense sou bloot geïnterpreteer word as dat Jesus se lyk gesteel is. Dit het in die antieke tyd gereeld gebeur met die lyke van rykes of bekendes. Die kombinasie van die leë graf met die verskynings van Jesus maak dus die getuienis vir die opstanding baie kragtig.
Waarom glo ons dat Jesus werklik aan mense verskyn het? In Paulus se getuienis in 1 Korintiërs 15:5-8 roep hy skeptiese mense op tot geloof deur hulle te wys op die baie getuies wat Jesus na sy dood lewend gesien het en van wie sommige al gesterf het maar die meeste nog lewe. Daar is ’n oorvloed van getuies wat Jesus na sy dood gesien het. Hierdie verskynings kon nie blote legendes wees wat in die teks ingesluip het nie, aangesien die tyd van skryf te kort was na die gebeurtenis. Dit kon nie hallusinasies wees nie aangesien te veel mense Jesus tegelyk gesien het. Hallusinasies is individuele gebeurtenisse en kan nie in groepe beleef word nie.
Byna al die dissipels het marteldode gesterf vir hulle geloof in die opstanding. Dit is opsigself vreemd aangesien almal van hulle weggehardloop het tydens die kruisiging. Petrus het Jesus selfs verloën. Daar word vertel hoe hulle na die kruisiging bewend van vrees weggekruip het. Wat het dan gebeur dat hulle ewe skielik na ‘n paar dae vreesloos begin verkondig het dat Jesus uit die dood opgestaan het en selfs gewillig was om daarvoor te sterf? Teoloog N. T. Wright beweer daar kan net een rede wees: hulle het werklik die lewende Christus gesien!
“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” – 1 Korintiërs 15:55. Ons geloof het vaste gronde!!
Recent Comments