Die bekende Britse akteur en skrywer Stephen Fry het onlangs in ‘n onderhoud homself uitgelaat oor wat sy reaksie sal wees, sou hy moes uitvind God bestaan. Fry het nie terug gehou nie en se o.m. die volgende:
“How dare you? How dare you create a world to which there is such misery that is not our fault. It’s not right, it’s utterly, utterly evil. Why should I respect a capricious, mean-minded, stupid God who creates a world that is so full of injustice and pain. That’s what I would say.”
Lees die volledige artikel hier:
Die ironie is dat die getal Britte wat die artikel gelees het waarskynlik meer is as die aantal wat verlede Sondag Britte in die kerk was!
Bogenoemde artikel het my weer opnuut laat dink aan die redeswaarom ‘n bediening soos Dialoog bestaan. Sekularisme is lank nie meer beperk tot Europa en Noord-Amerika nie, en volgense ‘n onlangse artikel in Rapport, http://m.news24.com/rapport/Suid-Afrika/Nuus/SA-glo-nog-dog-heelwat-minder-20120811, is ‘ongeloof’ die vinnigste groeiende ‘geloof’ in Suid-Afrika. Ek kan nie help om te dink dat dit direk verband hou met die kerk se onvermoe om die groot vrae van die lewe effektief aan te spreek nie. Wat Fry in sy kort onderhoud noem is reuse vrae waarooralle mense ernstig moet besin. As die kerk nie leer om haar geloof ook denkend uit te leef nie gaan daar oor ‘n paar jaar nie meer mense wees om met Fry te verskil nie.
Ek het geen twyfel dat die Christelike wêreldbeskouing die beste verduideliking gee vir die groot vrae van die lewe nie, en daar is ‘n ryk tradisie van kennis waarvan baie mense onbewus is. Trouens die Griekse denker Epikurus het al drie eeue voor Christus baie dieselfde geluide as Fry gemaak en die kerk worstel al lank met hierdie vrae. Daarmee sê ek glad nie dat dit nie eenvoudige antwoorde is nie. ‘n E-pos met ‘n bybelversie teen die agtergrond van ‘n mooi natuur toneel is nie ‘n antwoord op die nuutste tsunami in Suid-Oos Asië nie! Dit is duidelik dat die nuwe generasie, ook hier op eie bodem, nie tevrede met antwoorde soos ‘die dominee sê so’ of ‘glo soos ‘n kind’ nie. Ons google op ons selfone en ons soek na antwoorde.
Ek moet dit duidelik stel dat ek nie naïef genoeg om te dink dat suiwer intellek ons besluite bepaal nie. Mense is opsoek na iets eg wat ‘n verskil maak. Jesus stel die standaard van hoe om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Hy reken die beste ding wat jy kan doen is om jou naaste lief te hê, om jou vyande te aanvaar en vergewe. En wanneer ons gan kyk deur die geskiedenis, ontdek ons talle verhale wat hierdie boodskap ernstig opneem en so die koers van die wereld verander.
William Wilberforce was gekonfronteer met naasteliefde en het slawerny ‘n bloedneus gegee. Martin Luther King het êrens die idee gekry dat almal gelyk is en na die beeld van God gemaak is. Dietrich Bonhoeffer het gedink dat ‘n mens nie lofliedere mag sing tot God as jy nie die Jode in Nazi-Duitsland help nie. Die vroeë kerk het met spoed gegroei, want simpel Christene het die babas wat op die ashope weggegooi is, onder hul sorg geneem. En wanneer ‘n plaag die Romeinse ryk êrens getref het en almal gevlug het, was dit Christene wat die plaag en die gevolge daarvan tegemoet gegaan het. (Lees gerus Rodney Stark sê navorsing hieroor: http://thejesusquestion.org/2013/01/20/the-rise-of-christianity-by-rodney-stark/)
My hoop vir die toekoms is dat mense eendag sal terugkyk op hierdie generasie van Christene in Suid-Afrika en sien dat dit die kerk was wat versoening in Suid-Afrika moontlik gemaak het. Dat dit die kerk was wat rasse bymekaar gebring het. Dat toe politici modder gegooi hetof die EFF ander mense sleg gesê het, dit die kerk was wat akademiese onderrig in townships gehelp bou het en saam uitstappies geneem het na onder meer die Apartheid-museum en Voortrekker-monument om meer oor mekaar se geskiedenis te leer. Toe almal bekommerd was oor grondhervorming en nasionalisering in reaksie op die reuse gaping tussen ryk en arm, ‘n klomp Christene besef het dat hulle miskien nie daardie ekstra rekenaar, selfoon, kar, of klere nodig het nie, en eerder hul tyd in ‘n toekoms buite hulself spandeer.
Die kerk moenie wag vir die politiek om die land uit te sorteer nie. Die regering moet na ons kyk en sê, ‘dit werk, kom ons doen dit’.
Ongelukkig is dit nie genoeg om slegs die regte organisasie of beweging te ondersteun nie. Ek het besef dat ‘n konfrontasie met Jesus Christus jou nie alleen méér laat dink of doen nie, dit verander jou. Natuurlik is daar Moslems of ateïste wat soms ‘n beter morele voorbeeld is as sommige Christene. Die punt vir my is egter dat ons as Christene beter mense is (in wat ons dink en doen) as wat ons was voordat ons vir Jesus begin volg het.
Hierdie gaan nou weird klink vir my skeptiese vriende, maar ek dink regtig dat ek vir Jesus nodig het, dat om in ‘n verhouding met hom te wees, my help in alle aspekte van die lewe – hoe klein of groot ookal. As mensis ek gebroke en struikel ek meestal in hierdie pad agter Hom aan. Ek twyfel soms oor ‘n klomp goed en daarom voel ek soms skuldig om te dink datanderna my op Sondae luister of dat een of twee masochistiese persone hierdie artikel gaan lees. Jy sien, dit is nie net dat ek in Jesus glo om eendag ‘n tipe brand versekering te hê op die oordeelsdag nie. Dit is regtig omdat ek dink dat om in Jesus (en dit waarvoor hy gestaan het) te glo en Hom daarom na te volg, die beste manier is om te lewe.
Ek is deur Jesus gered (so corny as wat dit mag klink) want Hy het vir my intellektueel sin gemaak. Dis egter betekenisloos om net te weet wie Hy is en óór Hom te praat sonder om ook mét Hom te praat. Gevolglik het my redding werklik betekenis gekry toe ek Hom persoonlik leer ken het. Ja, ek weet laasgenoemde is al ‘n vervelige lyn en wat ek ‘n verhouding met die Here noem, beskou ander as ‘n volwassene met ‘n denkbeeldige maatjie. Christenskap is inderdaad weird, is en enige iemand wat nie so dink nie, lees nie hul Bybel genoeg nie.
Laastens het ek beleef hoe my redding en om Jesus te volg by my die verlange geskep het om te sien hoe ander mense hierdie redding ontdek. Nie in die superhero sin van die woord nie, meer soos D.T. Niles gesê het, ‘one begger, telling another begger where to get some food.” Vir een of ander rede het Jesus die bedenklike idee gehad om ook vir my te gebruik om sy Koninkryk te help bou. Ek sal nog eendag met Hom oor hierdie ‘breinvries’ moet gesels, maar vir nou het ek besluit dit is die grootste voorreg en uitnodiging wat ek nog ooit gekry het.
Hierdie skrywe dien as ‘n kort verduideliking van die hart agter Dialoog se bestaan. Ons visie “We engage hearts and minds with the relevance of Jesus Christ, spiritually, socially and culturally” poog om op ‘n holisitiese en inklusiewe wyse na God te kyk, met ons voete plat in hierdie wereld, sonder om weg te deins van die moeilike vrae.
“Culturally” hoop ons om ‘n verskil te maak vanuit Pretoria deur die relevansie van Jesus op ‘n kreatiewe en denkende wyse te vertel. Of dit nou by ander kerke, ons eie kerk of universiteite is, die missie bly dieselfde.
“Socially” probeer ons op ‘n sosiale vlak die uitdagings van Suid Afrika aan te spreek en is daarom in ‘n wonderlike verhouding met ‘n kerk en skool in Tembisa.
En “Spiritually“ groei ons in ons afhanklikheid en liefde vir God om sodoende aan die einde van elke jaar liewer vir God en vir mense te wees as wat ons was aan die begin daarvan.
Recent Comments